Εμφάνιση αναρτήσεων με ετικέτα Afrikaans. Εμφάνιση όλων των αναρτήσεων
Εμφάνιση αναρτήσεων με ετικέτα Afrikaans. Εμφάνιση όλων των αναρτήσεων

Τετάρτη 17 Ιουλίου 2019

Nuwe Opname van die Goddelike Liturgie




‘n Nuwe opname van die Ortodokse Liturgie, getoonset met hoofsaaklik die bekende Psalmmelodieë van Goudimel, sal binnekort beskikbaar wees. Hieronder is die motivering vir hierdie opname soos wat dit voorlopig op die binneblad van die opname gaan verskyn:

Waarom hierdie toonsetting?

My inspirasie om die Ortodokse Liturgie te toonset met die Psalm-melodieë van veral Goudimel, asook ‘n melodie van die Heilige Notker, is te danke aan my kennismaking op YouTube met André Nieuwkoop in Nederland se zangavonden, waar skares mense, gewoonlik meer as ‘n duisend, byeenkom, om die Psalms te sing. Ek het hierdie melodieë ontroerend gevind en was getref deur die geestelike diepte daarvan. Ek het dit met ‘n half-Afrikaanse kollega in die VSA gedeel en na hy na heelwat van hierdie Psalms geluister het, was sy opmerking: “Profoundly prayerful genius!” Ek het toe begin kyk na die moontlikheid om van hierdie melodieë te gebruik vir die toonsetting van die Goddelike Liturgie van die Ortodokse Kerk in Afrikaans en was aangenaam verras om te vind dat dit nie net moontlik was nie, maar dat dié musiek ook die geestelike diepte van die Liturgie treffend beliggaam. Tot dusver was ons aangewese op meesal Russiese melodieë, maar nou het ons ‘n musiekskat tot ons beskikking wat gewortel is in en eie is aan die geskiedenis van die oorgrote meerderheid Afrikaanssprekendes en wat ewe goed ook die draer van die Ortodoksie in Afrikaans kan wees. Met die gebruik van hierdie melodieë kry die Ortodoksie in Afrikaans myns insiens nou die moontlikheid van ‘n eie unieke stem.
Ek het met Leon Starker oor die moontlikheid gepraat om hierdie toonsetting met sy Oikos-sangers op te neem en hy was van meet af aan baie entoesiasties om dit te doen. Die doel van die opname is tweeledig: Om ‘n voorbeeld te hê vir Afrikaanse Ortodokse Christene van hoe die musiek gesing moet word, en om die skoonheid van die Liturgie met hierdie pragtige melodieë aan Afrikaanse mense in die algemeen bekend te stel, om so moontlik by te dra tot die geestelike en kulturele verryking van ons mense.
Graag wil ek ook my dank uitspreek teenoor ons Aartsbiskop Sergios, Metropoliet van die Aartsbisdom Goeie Hoop, wat sy toestemming en seën vir hierdie projek gegee het.
Mag hierdie opname vir vele van seën en tot stigting wees!

Vader Zacharias van Wyk, presbiter
Kapel van die Heilige Maria die Egiptenaar
“Keurkloof”
Robertson
Ortodokse Aartsbisdom Goeie Hoop
Patriargaat Alexandrië

L.W.: DIE VOLLEDIGE TEKS VAN DIE GODDELIKE LITURGIE, MET DIE TOONSETTINGS, IS IN PDF-FORMAAT OP HIERDIE SKYF EN KAN OP ‘N REKENAAR AFGELAAI EN UITGEDRUK WORD.

Afrikaans Ortodoks

 

"Volgens die Ortodoksie is elke mens ‘n unieke en onherhaalbare persoonlikheid, ‘n beeld van God, ongeag kleur, taal, godsdiens en kulturele agtergrond"

 
Die Paasboodskap van die Patriarg van Alexandrië en die hele Afrika Theodore vir Paasfees 2019


Ikoon van die Opstanding, Kerk van die Heilige Maria die Egiptenaar, in Suid-Afrika (foto van hier af)

April 27, 2019

Ons glo “in een Here Jesus Christus ……  wat gely het en begrawe is opgestaan het”.

My liewe kinders,
Ons vier met gejubel en geestelike vreugde die lewegewende Pasga! “Pasga van behae, Pasga, die Pasga van die Heer. ‘n Pasga al-eerbiedwaardig het vir ons opgegaan. Pasga! Laat ons mekaar met blydskap omhels. O Pasga, losprys van verdriet!”

Ons ontken egter nie die verskriklike werklikheid van ons alledaagse lewe nie; die pyn, die ongeregtigheid, die siekte. Pasga is ‘n unieke, dinamiese gebeurtenis. Verdriet en rou word verdryf deur die glans van die goddelike Lig en oorwinning van die lewegewende Opstanding.

Ons weet dat baie van ons broers en susters in hierdie tyd finansieel versmoor word en dat ander op die rand van armoede verkeer.


Onveiligheid en allerhande ander struikelblokke, met die katastrofiese gevolge daarvan op die lewenstandaarde  van ons mense, is ‘n aangeleentheid vir die hele samelewing, waar die slagoffer nie langs die pad lê en die aanskouers van hierdie drama aan die ander kant van die pad verbygaan nie, maar waar ons almal as mede-reisigers die gevolge dra van dit wat ‘n uitwerking op almal gemeenskaplik het. In die heel eerste plek roep hierdie verskynsels, deur die bewuswording van tekortkominge om op liefdevolle en samewerkende wyse daarmee tred te hou, en die gebrek daaraan, almal tot self-ondersoek op. Om ons woed oorloë en kom rampe voor. Gebiede naby ons word oorweldig deur vlugtelinge en immigrante, wat die skaakmat van politieke en finansiële dienstigheid van die wêreldmagte ervaar.

Te midde van die donkerte wat deur menslike lyding veroorsaak word, straal die ewige lig van die Opstanding van die Heiland met heerlikheid. Volgens die Ortodoksie is elke mens ‘n unieke en onherhaalbare persoonlikheid, ‘n beeld van God, ongeag kleur, taal, godsdiens en kulturele agtergrond. Dit vra om opregte hulpverlening aan die mens, en sekerlik aan die behoeftiges, met volle verwysing na die verlossende gebooie van die Skepper. Die Kerk is die Liggaam van Christus. Binne haar, “as een lid ly, ly al die lede saam” en omdat God liefde is, “bly hy wat in liefde bly in God en God in hom.”

 
Geloof in die Here “wat gely het en begrawe is en opgestaan het”, en die eksistensiële  verhouding met Hom, keer geduld en uithouvermoë , geestelike krag en innerlike vrede vir die siel af. Terselfdertyd moedig hierdie geloof ons aan om op liefdevolle wyse naas diegene wat ly te bly. Agting en versorging vir hulle wat gekwel word, gee op die mees wesenlike wyse uitdrukking aan ons aanbidding van Christus wat “vir ons verlossing” opgewek is. Ons begrip van die smarte van ons naaste en sorg vir hul verligting, bewys ons geloof in die Opstanding en ons praktiese liefde soveel meer.

My kinders “CHRISTUS HET OPGESTAAN! “Dit is ‘n dag van liefde. Die hel is oorwin (…..) Elke gesig straal, volgens die Griekse digter Dionisios Solomos, vanweë die heilige kers wat Christene in hul hande hou”. Mag die Verrese Heer, die Leier van die Lewe, ons hoop, liefde, krag en vreugde skenk in die ewige lig van sy Opstanding. Terwyl ek julle almal die seën van die Verrese Christus, die Oorwinnaar oor die dood, skenk, groet ek elkeen van julle persoonlik met die Opstandings-segelied: CHRISTUS HET OPGESTAAN! WAARLIK, HY HET OPGESTAAN!  terwyl ek julle almal “van die Here” alles wat goed en aangenaam is toewens “vir alles wat ons vir Hom doen”.

            Met die seëninge van die Opstanding,

(Geteken deur) +Theodoros ll
Pous en Patriarg van Alexandrië en die Hele Afrika

Τρίτη 26 Δεκεμβρίου 2017

Kersboodskap van ons Patriarg 2017


 
THEODOROS II
DEUR DIE GENADE VAN GOD POUS EN PATRIARG VAN ALEXANDRIË
EN DIE HELE AFRIKA;
AAN DIE VOLHEID VAN ONS APOSTOLIESE EN PATRIARGALE TROON:
GENADE EN BARMHARTIGHEID EN VREDE VAN ONS HERE EN GOD EN HEILAND JESUS CHRISTUS WAT IN BETHLEHEM GEBORE IS

 
“Vandag word Christus in die stad Bethlehem gebore, die hemele is bly en die hele skepping verheug hom!”

My liewe broers en susters, my kinders,
Vandag is dit die Fees van die Geboorte van Christus! Die hemelse en engele-gesange word weer gehoor. “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde en in die mense ‘n welbehae.” Kerkklokke weerklink weereens oor die ganse planeet en kondig aan:
” ‘n Redder is vandag vir ons gebore.”
Ons vier almal, elkeen op sy eie manier, God se groot selfvernedering vir die verlossing van die mensdom. Sy liefde sal ons weereens in die praktyk leer wat die boodskappe daarvan is. ‘n God van liefde en ‘n God van nederigheid.
“Hy wat niks kan omvat nie” word vlees, om krag en moed te gee aan die swak en teleurgestelde mensdom. Die ewige Here word gebore om die wêreld uit sy doodloopstraat te neem. ‘n Wêreld wat tot dusver skynbaar nóg die Engele-lied  nóg die boodskap van “vrede vanuit die hemele” gehoor het. Ons word daagliks met oorloë, wêreldwye en burgerlike konflik,  burgeroorlog, terrorisme, vlugtelinge, ontworteling gekonfronteer.


God reageer op ons: Hy word in nederigheid gebore, in die krip van ‘n dier. Hy word warm gehou deur die asem van die diere. Hy word in ‘n grot gebore. Dit is waarom niemand Hom herken het nie, niemand Hom verstaan het nie, want niemand wie se oë “na die aarde” gewend was, kon Hom vind nie. Net die herders “wat in die oop veld gebly het”,(Lk. 2:8) onskuldige en nederige siele, het besoek ontvang van die engele en is waardig geag om die eerste te wees om Hóm in ‘n krip te sien lê “wat alle dinge dra” (Hebr. 1:3)
Almal was Hom te wagte! Eeuelank het die Hemel Sy koms beplan. Eeuelank het die bandelose, sondige en patetiese mensegeslag geworstel tussen twyfel en onkunde, hulpeloosheid en ‘n doodloopstraat.
Duisende jare gelede het die Profete vooruitgesien en dit geprofeteer wat ons vandag vier. Filosowe en digters van treurspele het sy koms verkondig.
En die Hemel het geantwoord! En die Seun en Woord van God het gekom, “gebore onder die wet, om die wat onder die wet was los te koop”. (Gal. 4:4-5) Emmanuel is gebore, sodat die mensdom met sy eie oë kon sien Wie God is, Hom aanraak, Hom bespot, Hom ontken, Hom verraai, Hom doodmaak en Hóm aanbid wat op die derde dag opgestaan het.

 
Foto van hier af: 
Die boodskap van die Fees van die Geboorte word aan ons almal gerig, my broers en susters. Nie net vandag nie, maar elke minuut, elke oomblik van ons lewens. Ons moet dit as ‘n reël van geloof ervaar, ‘n beskutte hawe in al die skipbreuke van ons lewens. Die mensdom het dit soos nog nooit tevore nodig nie om mense-harte oop te hou en hulle warm en rein te hou, sodat Jesus daarin gebore mag word. Ons hoef nie na Hom te soek in paleise en weelderige sale nie. ‘n Nederige pondok, soos die wat oral in Afrika te vinde is, is genoeg. Hy soek naarstiglik na warmte en vertroosting. God klop vanaand aan die deur van jou hart. Gaan jy Hom laat wag?
My broers en susters, my geseënde kinders, laat ons ons noëties verplaas na die dele van die Midde-Ooste vol beroeringe, na die buitewyke van Judea, om te kyk na waar, maar veral waarom, Jesus gebore is. Laat ons die grot binnegaan, voor Hom kniel en vir Hom sê: “Christus, die mensdom het nie die deugde van vrede geniet soos wat dit wou nie. Dit lewe in oorloë, wat alle vreugde en vrede dood. Dit lewe in nood en die vrees van ‘n onsekere toekoms. Die wêreld laat ‘n mens dink aan ‘n yslike slagveld, waar elkeen teen sy broers gekant is. Ten spyte van al die samesprekings en vredesbewegings, het dit vir twintig of meer eeue ‘n ‘ontwykende duif’ gebly, ‘n onsekere droom.”
Laat ons dit te bowe kom! Laat ons die hartstogte  tersyde stel wat ons aanhits tot dade van geweld! Laat ons arms van liefde uitstrek en elke mens omhels. Dan sal ons die Geboorte voortdurend ervaar.

Nog baie geseënde jare!
THEODOROS ll
Pous en Patriarg van Alexandrië en die Hele Afrika
In die Groot Stad Alexandrië
Die Fees van die Geboorte van Christus 2017

Kersfees 2017, en die Heilige Doop in Sint-Nikolaas van Japan ortodokse gemeente in Johannesburg (meer hier)
Sien ook

IN ENGLISH HERE
Orthodox Christmas 2017 in Africa!
"Kom, julle wat na betekenis soek in die lewe. Kom julle wat honger en dors na die geregtigheid!"

Nog 'n foto van die doop
 


The Orthodox Holy Week & Holy Easter (Pascha)

Khanya e isoe ho Molimo holimo

Δευτέρα 25 Δεκεμβρίου 2017

"Kom, julle wat na betekenis soek in die lewe. Kom julle wat honger en dors na die geregtigheid!"


‘n Preek deur Vr. Anthony Coniaris van die Grieks-Ortodokse Kerk in die VSA vir die Sondag van die Voorouers, 2017, na aanleiding van die voorgeskrewe Evangelie volgens Lukas ( 14:16-24)


Afrikaans Ortodoks - Kerk van die Heilige Maria die Egiptenaar

Uit Engels vertaal deur Vr. Zacharias van die Bedehuis te Robertson
Die Here het hierdie gelykenis vertel: (Lk. 14:16-24)


 ‘n Sekere man het ‘n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi.
En op die uur van die maaltyd het hy sy dienskneg uitgestuur om vir die genooides te sê: Kom, want alles is nou gereed.
En hulle het hul almal eenparig begin verontskuldig. Die eerste het vir hom gesê: Ek het ‘n stuk grond gekoop en ek moet noodsaaklik uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my tog.
En ‘n ander een het gesê: Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u, verskoon my tog.
En ‘n ander een het gesê: Ek het ‘n vrou getrou en daarom kan ek nie kom nie.
En daardie dienskneg het gekom en dié dinge aan sy heer vertel. Toe het die eienaar van die huis kwaad geword en vir sy dienskneg gesê: Gaan gou uit in die strate en die gangetjies van die stad en bring die armes en verminktes en kreupeles en blindes hier in.
En die dienskneg het gesê: Meneer, wat u beveel het, is gedoen, en daar is nog plek.

Toe sê die heer vir die dienskneg: Gaan uit op die paaie en na die lanings en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word.
Want ek sê vir julle dat nie een van daardie manne wat genooi is, my maaltyd sal smaak nie. 


Die meester van die maaltyd het dubbeld seker gemaak dat die gaste die uitnodiging sou ontvang. Hy het aan elkeen twee uitnodigings gerig: Die eerste was om vir elkeen te laat weet dat hy genooi is; die tweede, op die dag van die maaltyd, om aan te kondig dat alles gereed is: “Kom, want alles is nou gereed.”
“Kom!” Die Evangelie is nie soseer ‘n bevel as ‘n aanbod nie; nie soseer ‘n eis as ‘n gawe nie – maar eerder ‘n uitnodiging om te deel in die ongelooflike vreugde van die koninkryk.
“Kom!” God verwag jou! Hy is gereed vir die armes, die verminktes, die blindes, die verlamdes. Hy is gereed vir hulle wat hul lewens op die hoofweë en kronkelpaaie van die lewe deurgebring het. Hy nooi almal uit: “Kom, want alles is nou gereed!”
Soos ‘n herder soek vir die verlore skaap, soos ‘n vrou wat op haar knieë afgaan om ‘n verlore muntstuk te vind, soos ‘n vader wat wag op sy verlore seun om huis toe te kom, so soek, roep en nooi God sonder ophou.
“Kom, want alles is nou gereed!” Kom, julle wat na betekenis soek in die lewe. Kom julle wat honger en dors na die geregtigheid. Kom julle wat struikel onder die las van sonde en skuld. Kom julle wat be-angs en bang is. Kom julle wat treur. Kom julle wat na vrede en vervulling soek. Kom, ‘ Die tafel is gelaai, geniet almal daarvan. Die kalf is gemes, laat niemand honger weggaan nie. ……. Geniet almal die rykdom van sy goedheid. …. Laat niemand sy foute beween nie, want vergifnis het uit die graf uit opgekom. Laat niemand die dood vrees nie, want die dood van die Verlosser het ons vrygemaak.’ (Uit die Paaspreek van die Heilige Johannes Chrysostomos)

Kersfees Liturgie 2017, Bunia, Kongo (DRC), van hier af

Daar is baie wat die Christendom beskou as ‘n soort tiranieke godsdiens. Vir hulle is dit niks anders nie as ‘n reeks gebooie: ‘Dit moet jy doen; dat mag jy nie doen nie.’ Maar die Christendom is nie in die allereerste plek ‘n “behoort” godsdiens nie. Dit is in die allereerste plek ‘n “kom” godsdiens. Die groot aantrekkingskrag van Christus is nie geleë in Sy “jy mag nie”, maar in Sy “kom na My toe”. Kom en word met die Heilige Gees vervul. Kom en word vervul met die krag van God se teenwoordigheid. As ons na Hom toe kom, sal ons sekere dinge doen, nie omdat ons dit “behoort” te doen of “moet” doen nie, maar omdat ons ons daarin verheug om dit te doen as uitdrukking van ons liefde vir Jesus.
In sy kommentaar op hierdie woord “kom”, en veral op die woorde van Jesus ” Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is”, het die Heilige Johannes Chrysostomos hierdie kosbare woorde geskryf: “Sy uitnodiging is ‘n uitnoding van goedertierenheid. Sy goedheid is onbeskryflik. ‘Kom almal na My toe,’ nie net heersers nie, maar ook hul onderdane, nie net die rykes nie, maar ook die armes, nie net die wat vry is nie, maar ook slawe, nie net mans nie, maar ook vroue, nie net die jeug nie, maar ook ouer mense, nie net diegene met gesonde liggame nie, maar ook die verminktes en hulle met geskende ledemate, vir julle almal sê Hy, kom! Want sodanig is die gawes van die Meester; Hy ken geen onderskeid tussen slaaf en vryes nie, ook nie tussen ryk en arm nie, maar alle ongelykhede van hierdie aard word opsygesit. ‘Kom’, sê Hy, ‘almal wat vermoeid en belas is’.

” En kyk ‘n bietjie wie Hy roep! Hulle wat hul krag aangewend het om die wet te oortree, hulle wat deur hul sondes belas is, hulle wat hul hoofde nie meer kan oplig nie, hulle wat met skaamte vervul is, hulle wat nie meer hulle gevoelens kan lug nie. En waarom roep Hy hulle? Nie dat hulle rekenskap moet gee nie, en ook nie om te oordeel nie. Maar waarom? Om hulle verligting van hul lyding te gee, om hulle swaar las van hulle weg te neem.”
Wanneer Jesus sê: “Kom!” staan Hy nie op die boonste sport van ‘n lang leer in die hemel om vir ons die teken te gee dat ons moet begin klim nie. Want Hy het Self met die leer afgeklim tot op die vlak van ons elmboë. Hy het na ons toe gekom.
” (Hy) Wat ter wille van ons, mense, en ter wille van ons saligheid neergedaal het uit die hemele, vlees geword het deur die Heilige Gees en die Maagd Maria, en mens geword het. (Die Geloofsbelydenis van Nicea). “Sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê.” Hy het gekom, gebore in ‘n stal. Hy het gekom en aan die kruis gesterf. Hy het gekom om vir ons die maaltyd van verlossing vir ons voor te berei. En nou – vandag – stuur hy sy diensknegte om ons uit te nooi: “Kom, want alles is nou gereed.”
In plaas daarvan om dit te aanvaar, is hierdie uitnodiging verwerp. “Ek het ‘n stuk grond gekoop…..   Ek het vyf spanne osse gekoop…….. Ek het ‘n vrou getrou ……. Ek kan nie kom nie. Verskoon my tog.” Dit  was die reaksie. Is dit nie vandag dieselfde reaksie nie? Die groot tragedie vir ons is dat ons op die ou end die verkeerde uitnodigings in die lewe aanvaar. Ons loop die feesmal mis, die oorvloedige lewe van Christus, en  aanvaar die mindere en die verbygaande. En Jesus weekla steeds: “O Jerusalem, Jerusalem, ….. hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!”. (Mt. 23 37)

 Zimbabwe, van hier af

“Kom, want alles is nou gereed.” “Maar ek is nie waardig om te kom nie”, maak jy beswaar. “My klere is nie geskik nie. Ek sou nie weet hoe om my in die Meester se paleis te gedra nie.” Dit alles maak geen saak nie. Die uitnodiging is aan almal gerig. Die goeie nuus is dat jy nie volmaak hoef te wees om te kom nie. Kom soos jy is – met al jou sondes en smarte, swakhede en mislukkings, probleme en vrese. Kom na die enigste Een wat jou kan vergewe en genees. Kom na die enigste Een wat jou waardig kan maak.
“Kom, want alles is nou gereed.” Om na Jesus te kom, is ‘n manier van lewe. Dit begin met die doop. Dit behels ‘n daaglikse toewyding, bekering, gehoorsaamheid, aanbidding, Bybel lees, en gereelde Kommunie. Dit behels die daaglikse stap met Jesus. Dit behels nie net “Kom!” nie, maar ook “Gaan!” “Gaan uit in die wêreld en wees my dissipels. Wees dienaars. Wees ligte. Wees sout.”
Nie een van ons sal ooit die wonder van die helder verligte banketsaal, die heerlikheid van die voedsel, en die vreugde om deel te wees van hierdie verstommende gemeenskap ervaar, tensy ons die verskonings agterlaat en dit waag om die uitnodiging te aanvaar nie.
Kom nou na Hom toe en wees verseker dat Hy jou op die laaste dag sal stuur na die grootste “Kom” van alles: ” Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.
Gebed
Here, ek kom. Geen verskonings. Geen verontskuldigings. Ek weet ek is nie waardig nie. Sonder U het ek gelewe asof ek blind is en verlam. Ek kom honger en dors. Ek kom om gevoed te word. Amen.

Sien ook  
 

Σάββατο 22 Ιουλίου 2017

Die Heilige Gregorius Palamas († 1360)


Bedehuis Bethanië - AFRIKAANS ORTODOKS 
Coming Home Orthodoxy 
 
Die gedagtenis vandag van Sint Gregorius Palamas op die Tweede Sondag van die Groot Vastyd is deel van ‘n regstreekse voortsetting van die Sege van die Ortodoksie wat ons verlede week gevier het. Want deur die erkenning van die rol wat Sint Gregorius Palamas in die oorwinning van die ketterye van die veertiende eeu gespeel het, vier ons ‘n hernieude sege van die Ortodoksie oor ‘n groot bedreiding vir die geloof.
Sint Gregorius is in 1296 gebore. Na ‘n aanvanklik sekulêre opvoeding het hy die monnike-lewe op die Berg Athos, wat destyds ‘n florerende sentrum van die Ortodokse kloosterwese was, betree. Hoewel hy bekend is vir sy bydrae tot die teologie van die hesigasme, of stille gebed, was sy bydrae tot die Kerk veel wyer as dit, en het hy die integrasie van die privaatgebed van die monnik met die openbare aanbidding van die Kerk beklemtoon.
Na ongeveer twintig jaar as monnik het Sint Gregorius betrokke geraak by die verdediging van die tradisionele geloof van die Kerk teen ‘n sekere Barlaam wat deur die denke van die westerse Renaissance beïnvloed is. Barlaam het beweer dat ons God nie kan ken nie en dit het ‘n sterk reaksie by Sint Gregorius ontlok, wat aangevoer het dat hoewel God onkenbaar is, Hy Hom wel openbaar en dat Christus, deur die vleeswording, ons ‘n bonatuurlike kennis geskenk het. Bowendien het Sint Gregorius se verdediging van die hesigasme, wat kort daarna wyd deur die hele Kerk aanvaar is, ‘n teologiese fondament voorsien wat die teologiese gronde van die monnike-lewe duideliker gemaak het en dit by die liturgiese lewe van die Kerk geïntegreer het.
In 1347 is Sint Gregorius as aartsbiskop van Thessalonika gewy en was hy bekend vir sy goot pastorale toewyding, en sy preke uit hierdie tyd is merkwaardig wat betref die pastorale eenvoud daarvan en die fokus wat hulle geplaas het op die sentraliteit van Christus.

Vir hulle wat in die duister van die sonde woon, het U in hierdie tyd van onthouding lig gebring, o Christus.. Toon ons daarom die glorieryke dag van u Lyding sodat ons tot U mag roep: Staan op, o God, en ontferm U oor ons.
Uit die Mette vir Gregorius Palama

Uittreksel uit Evangelion. ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof, 11 Maart 2012.

Sien ook 

Τρίτη 13 Ιουνίου 2017

Die Ortodoksie in Afrikaans : Die Bybel in die Ortodokse Kerk ― Christus onder julle


Afrikaans Ortodoks - Kerk van die Heilige Maria die Egiptenaar


Welkom by die tuisblad van die eerste Ortodokse Gemeenskap in Suid-Afrika wat tot stand gekom het met die spesifieke doel om ‘n geestelike en kulturele tuiste te help skep vir veral Afrikaanssprekendes wat belangstel in die Ortodoks-Christelike geloof. Die Ortodokse Kerk het ‘n historiese kontinuïteit wat direk na die vroegste Christelike gemeentes terugstrek en ‘n leer wat getrou aan die Skrif, die Apostels, die Kerkvaders en die sewe Ekumeniese Konsilies van die historiese Kerk gebly het. Ons is ‘n gemeente van die Ortodokse Aartsbisdom Goeie Hoop en ons biskop is Aartsbiskop Sergios van Kaapstad. Die Aartsbisdom Goeie Hoop is deel van die Ortodokse Patriargaat Alexandrië en die hele Afrika. Ons priester is Vr. Zacharias van Wyk. Ons vier tans op gereelde grondslag die Vesperdiens (die amptelike Aandgebed van die Kerk) en die Liturgie (die Nagmaaldiens) in ons kapel op Robertson, wat gewy is aan die Heilige Maria die Egiptenaar, een van die merkwaardigste vroue van die vroeë Kerk. Iedereen is welkom om in Afrikaans saam met ons te kom aanbid. Padaanduidings vir besoekers verskyn onder die “Kontak”-hofie. Die woord “ortodoks” beteken, terloops, “juiste aanbidding”. Mag u deur hierdie bladsye iets van die onbeperkte skat van die vroeë Kerk ontdek, die Kerk wat, hoewel dit al twee duisend jaar oud is, nog altyd die wonderskone bruid van Christus gebly het en wat nooit oud of oudmodies raak nie. Wat ‘n voorreg dat ons nou ook in Afrikaans deel kan hê aan hierdie Kerk van Christus wat wortel in die leer van Christus soos wat ons dit oor die eeue heen van die Apostels ontvang het.


Foto van hier (Pointe-Noire)

Leesstof

Die Bybel in die Ortodokse Kerk deur vr.Diaken Stephen Hayes. Die Afrikaanse vertaling deur Vr. Zacharias.

Christus onder julle  ‘n Uitstekende inleiding tot die Ortodokse geloofsleer vir Westerlinge deur vr. Sergius Heitz, in Afrikaans vertaal.

Opsomming van ‘n praatjie deur Metropoliet Kallistos oor verlossing

As ons ons sondes bely ‘n Uistekende boekie ter voorbereiding van die Misterie van die belydenis van sondes deur Vr. Thomas Hopko.

Maria in die Ortodoksie 2008 deur metropoliet Kallistos Ware.

Die Ortodoksie deur vr. John Meyendorf.

Maria die Egiptenaar Die verhaal van hierdie groot Egiptiese Heilige soos aangeteken deur Patriarg Sofronius van Jerusalem.