Showing posts with label afrikaans. Show all posts
Showing posts with label afrikaans. Show all posts

2017/05/01

Wanneer die Winter Kom

Wanneer die Winter Kom
 
Wanneer die winter kom,
  is dit tyd vir sjerrie en sjokolade.

Wanneer die winter kom,
  is dit tyd om nader aan mekaar te skuif,
  snoesig onder die kombers om die kaggelvuur.

Ongelukkig verloop sake nie soos beplan,
  nie soos die mens se wil.

Soos nou.
Soos nou.

Dis tyd om afskeid te neem.
Dis tyd om totsiens te sê.

Afskeid, tranetyd
'n Blinkering in die ooghoel
Van 'n hart wat lek.

'k Hoop wanneer ons weersien,
  trane verpleegsters was.

'k Hoop op 'n vredesrugtigheid,
  wanneer ek jou weer sien.




Oorspronklike skrywe 18 Junie 1987

2017/04/30

Lament van 'n Nie-meer

Lament van 'n Nie-meer

Ek was ek was ek was, gewees.
Ek het ek het ek het, gesien.
Ek sou ek sou ek sou, soveel doen.
Maar ag, maar ag: ek het gewag!

Die lewe die lewe, is 'n draad.
Die skêr die skêr, so skerp.
Ek wou ek wou, ek wou nog soveel doen.
Die dood die dood, het so gou gekom...



Oorspronklik geskrywe 3 Julie 1986

2017/04/14

Es Deus

Es Deus
 
U het, Here:

Dis net in eenvoud wat ek tot U kan kom
Wanneer ek die natuur beskou
U skepping bewonder
U is my te behou.

Hoeveel springbokke is daar dan nie?
U ken elkeen by naam
Wanneer een 'n roofdier ten prooi val
Is dit volgens U wil gedaan.

Is die kraaie dan nie wispelteurig nie?
Tig luister hul na U.
Het hul Elia dan nie bedien
Op die woord van die Individu?

Hoe wonderlik is U werke
Die heelal volgens U gemaak
Hoe verbasend is U gena'
U't my ook nie versaak.

Om te dink aan die dood
Sal my brein nooit nie wen
Deur 'n spieël in 'n raaisel
Om eendag ten volle te ken


Dan nou, Here:

Ek staan voor 'n vlakte -
Dis droog en bar en wyd.
My swarigheid voel my
Euwel's genot om uit te kryt.

Ek sien geen dier.
Nie eens gras roer in die wind.
Dis droog en bar en wyd.
Ek voel leeg, ek voel verslind.

O' Here nader by my U.
Vul my vlakte van pu=yb
Met lewende water uit u troon -
Die dorheid te verdwyn.

Hoe wonderlike is U werke
U voorsien elk' boom van water.
Hoe deurgaam is U liefde
U sal my nie los vir later.

In futurm, Here:

Ek weet dat U al's kan doen -
Geen plan is vir U onuitvoerbaar nie.
Ek kan geen raadsbesluit neem -
Geen kennis kan uit my voortkom nie.

So het dan eie ek in gesprek,
Maar niks verstaan.
U is te wonderlik vir my.
Tog sal ek luister na geen vermaan.

Hoor tog, O' Here
As ek tot U spreek.
Ek sal U ondervra,
U sal my onderrig, die leek.

Es Deus
Deus Mea.



Oorspronklik geskrywe 9 Julie 1986

2017/03/06

Ntendeka

Ntendeka

'n Zoeloekoning het toevlug gevind
onder die ontmoeting van blou en krans
daar in die woude waar
    sonstraal en skadu soos kinders rondbaljaar.

Majestueus het Ntendeka uitgetoorn,
die roep van die loerie beskerm
en die Skepper te verheerlik
    terwyl laatmiddagson voelers oor die vallei uitstrek.

Saam met sytakke ban Sikwebezi vloei die laaste lig weg
Vuurvliegies wys die pad vir woudlopers aan.

In my gees het iets ontwaak. 




Oorspronklike skrywe 14 Mei 1989

2017/02/27

Mens

Mens

... kyk in oneindigheid in.
... ry op winde van goeie herinneringe.
... swem in stil glimlag.
... verlang.




Oorspronklike skrywe 4 Desember 1987

2017/02/20

Intern

Intern

In die wind 'n tere fluistering.

In die reën 'n verborge lied.

In die lug 'n voordurende herbeelding.

In die grond 'n wortel tot groei.

In die water 'n mikrokosmos vol lewe.

In die mens ... ?



Oorspronklik geskryf 29 Aug 1987


2017/02/06

Dagegte

Dagegte

alles troebel so is my
redenasie ondermyn versper my
denke word kop of stert ek
kan nie uitmaak nie ek weet
nie links of regs nie op of
af weet nie ek nie afgekom
het nadat of die ses 'n
rivier troebel dam soos 'n
so deurmekaar dit is




Oorspronklike skrywe 16 Mei 1987


2017/01/30

Pondokkie

Pondokkie
 
Pondokkie in die Hoëveldgras
  Vervalle ou geboutjie -
    Met sy goue vensters.

Die son trek wes weg
  Die glans verkwyn -
    Dofgrys vervalle geboutjie.


Elkeen is seker geregtig op 'n stukkie goud in't lewe.



Oorspronklik geskryf 29 Maart 1987.

 

2017/01/28

Afskeid

Afskeid

Groepering van vriende
Soos die vrugteboom vol vrugte in die somer
Weerklank van hartlike gelag
Oomblikke van teerheid
Pure genot.

Na die somer die herfs
Soos die blare val
Verwaai ons van mekaar
Elkeen in sy eie koers
Elkeen in sy eie onbekende.

Die eerste winterreën
Is die trane aan die wang
Weemoedigheid aan dag
Emosie sonder perke
Huil jou hart uit.

Vaarwel vriende
Mag ons weer ontmoet
In eenvoud, vrede en by God.



Oorspronklike skrywe 17 Junie 1986

2017/01/23

Beelde

Beelde 
 
Op't die rug gelê
  met oë na die wolke gerig.

Twee swane't na mekaar gesweef;
  grasieus, majestieus.

Twee takbokke't langs mekaar gestaan;
  liefkosend, afwagtend .


Die lig het skielik-snel verdof ...

  Dit reën.



Oorspronklik geskrywe 30 Januarie 1987


2017/01/19

Vraag in Lewe

Vraag in Lewe
 

                   Illusie in lewe

Wat gevind was, was onbewus
Wat geweet was, was onbekend
Wat besit was, was onbesit

Soeke, denke, besitname.

Wat was is porselein;
Wat val sou breek

Uit elk' skerf 'n boodskap:
In elk hartseer 'n nuwe toekoms
Hou moed reisiger, hou moed!


                   Vrees in vriendskap

Vriendskap in uitreikende hand
Vriendskap om aan te neem
Vriendskap om te koester.

Aangryp, ontvang, beskerm.

Vrees van ontbinde vriendskap
Vrees uit onbekende bron

Tyd sal leer
Tyd sal antwoorde bring
Bly afwagtend reisiger, bly afwagtend!




 

                   Lewe in Liefde

Liefde in die lug
Liefde incognito
Liefde kom, liefde gaan.

Teenwoordig, onbekend, introvert.

Hartseervlekkies in saligheidsrooster.
Salomo die leermeester

'n Geduldige mens is verstandig
'n Kalm gemoed hou die liggaam gesond
Wees regverdig reisiger, lewe met eer!


                   Ewigheid in dankbaarheid

Dankbaarheid vul die lewe
Bring moed vir môre
Jubilate!

Vervuld, verwagtend, dansend.

Niet ewig, niet verewig
Net kontinu in intervalle.

Al is dit donker en onskyn
Sal wolke verdwyn
Jubel sal jy reisiger, sal jy wel!


                   Imperfeksie in gedagte

Gedagtes ryk aan idees
Gedagtes vervul met verwagting
Gedagtes soekend na waarheid.

Meditasie, afwagting, gerigtheid.

Ekklesiasties depressionisties.
Geen perfeksie van siel, gees of liggaam.

Volleerdheid is illusionêr
Bly groei, bly leer.
Omhels vernuwing reisiger, sonder end!










Verwerk van oorspronklike werk in 6 September 1986


2017/01/16

Beeld vir 'n Gewaarwording

Beeld vir 'n Gewaarwording

'n Donker massa
  afgewissel met helderheid
van 'n wit aar getatoëer
  oor donker wolke.

'n Groen wuiwing
  gesprei teen heuwels en berge
juigend langs vloeiende
  bergstroomkristalhelderheid.

'n Uiterlike verwarming
  vorm 'n lewensbenodigheid
uitgestraal teen ewigstrekkende
  ligblouheid.

Die silwer kronkeling
  op plate van water
omring deur die oneindighed
  van skitterende diamante.

Iets wat was, is, het beskik
  oor verlede en toekoms.
Iemand wat oor iedereen se toekoms mag waak
  Wat spreek jy, moderne mens, daaroor?




Verwerk van oorspronlike idee van 6 Julie 1986







2017/01/12

Winter by Andre

Winter by Andre

In die vallei af kom hy aangehardloop.
Die wind.
En snerpend sny hy my gebeente onder my rugstring af.

Kliprivier Celsius weerklink teen sagte sand.
Ek ruk my los uit koue gestalte.

Deur immergroen, geskarrel na hout beskut.
Na stomprook van geskaar, na waar ek veilig voel, na
                               daar waar jy my tot lewe heel.



Oorspronklik geskrywe 9 Julie 1989.


2017/01/09

Reënboog

Reënboog

Reënboog. Spektrum. Dispersie.

Groue omstandighede
  Geestelike aftakeling
    Gemoed in dispersie
      Depressief

       Wolke weg
Weerkaatsing weg
    Reënboog weg

Sonstrale in die hart
  Probleme opgehef
    Nuwe uitkyk
      Sielsgeluk




Oorspronklik geskrywe 15 Junie 1986

2017/01/08

Lugspieëling

Lugspieëling

Dit was

        'n Blik in die verte
       
Daar was
         hoop
         opgewondenheid
         'n gejaag

'n Gejaag na wind. Dit was

'n Lugspieëling
        geen hoop
        gekrenktheid van siel
        donker toekoms teen ligblou hemel

Waarom?




Oorspronklike geskryf 15 Junie 1986

2016/05/04

Porseleinruiter

Porseleinruiter

Want die son het geskyn
Maar die reën  het geval
Op rooi grond gedans soos kinders op karnaval
Tot waar akasia die horison belyn.

Onder die kliphuis se grasdak
Vertel Led Zeppelin
Van trappe die hemel in
En gooi skadu’s op die hart se afdak,

Want die donker het verby gesuiker
Die laaste lig ingesluk,
En tyd verongeluk
Hierby die Bavariese porseleinruiter.

Hier, net hier is nou
Hier waar ek weet ek verlang na jou.

2015/12/22

Ysbeer ontmoet vir Senna

Hierdie is 'n kopie van 'n artikel wat vir die Peglerae - die nuusbrief van die Magaliesberg afdeling van Bergklub van Suid-Afrika - geskryf is en in die Maart 2015 uitgawe gepubliseer is.

Ysbeer Ontmoet vir Senna
Die uwe Ysbeer is terug in die Magaliesberg. Eish! Dis hittig daarso. Ysbeer het maar gesweet. Daar waar hy vandaan kom is nie so warm nie. Ysbeer kan wel berig dat Grootkloof nog so mooi soos altyd is, oeroue sandsteenkranse en al.

Ysbeer het ook Senna ontmoet. Ayrton Senna? Hy mos dood. Het Ysbeer dan nou geeste opgeroep? Nee, nee, Ysbeer het geleer van Senna die Onkruid, oftewel Senna Obtusifolia. Julle sien, die dinge wil mos ons klowe vervuil. Ons moet terugveg! Ons moet hierdie bliksems uitwis, maar ons moet hulle ontkant vang, net daar wanneer hulle dit nie verwag nie. Februariemaand! Wanneer hulle nog droom van blommetjies en peule, gryp hulle en ruk hulle uit – hulle sal nie hulle blou lug van hulle bruin grond daarna onderskei nie. Ysbeer sê maar net.

Nou kyk, hierdie klub het mense wat die natuur so goed ken. Ysbeer het geleer van klein kewertjies wat in rakswamme bly. En dié kewertjies het sommer parasitiese wespes saam met hulle – een hele millimeter groot! Kruip nou op jou knieë rond om Senna te verdwelg of uitheemse bome af te saag en dis die goed wat jy by Ottilie leer. Priceless. (Jy kan ook dit nie met Mastercard koop nie).

So van wespes gepraat, Ysbeer het simpatie met die samekomeling wat deur 'n perdeby op die lip gesteek is. Eina! Ysbeer dink hy moet Jan van Riebeeck daarvoor blameer - dit blyk die populêre tema van die maand te wees.

Terug van daardie meander na hierdie kwessie van interessante Magaliesberg feite. Wie van julle weet van al daai moerse magma wat hierdie berg op sy sy gedraai het? Ek is jammer, maar geen Nkandla firepool sou dit ooit kon stop nie. Ja-nee, Ysbeer het sommer so ad-hoc geologieles by Christa ook gekry. Ek sê, ek sê, mens leer baie meer interessante dinge hier as 'n tiener wat 'n sneak preview op 'n pornkanaal probeer trek.

Maar hier is nou 'n ding wat Ysbeer ook geleer het. Dié onkruiduitroeiery is 'n wonderlike ding. Ja, selfs meer wonderlik as die donkie. Die Bergklub kan seker mense betaal om dit namens ons te doen, maar arbeid kos geld. Ons is baie beter af om daardie geld te spaar vir ander bewaringsprojekte – soos om nog grond te kan koop. As ons dit self doen, dan kry ons kans om dele van ons grond te verken, waar ons dalk nooit andersins op sal uitkom nie. Dis so verve-e-e-e-lig om altyd op paadjies te loop! 'n Bergklublib kan soveel nader aan die Moeder Natuur ook kom – reg hierso op ons eie grond. Dis in elk geval nie sulke harde werk as wat mense hulle sal verbeel nie. 'n Stuk werk in die oggend, en die middag in 'n yskoue bergpoel - what's not to like, bro? Moet nou ook nie die lekker kos tussen in vergeet nie. As jy nie lekker geëet het nie, moenie Ysbeer blameer nie – pak beter in volgende keer.
Maar so 'n dag moet ook aan 'n einde kom. 'n Mens moet ook maar vir die koelte en sereniteit van Ysterhoutkloof totsiens sê.

Groete hier van die N4 af. Ysbeer wil ook net sê: Woza next weeding weekend! (Nee, jy kan nie gerook raak nie, it's not that kind of trip).
(En so as 'n finale woord wil Ysbeer ook maar net noem dat hy sommer so lekker gevoel op sy maag het – hy voel hy het 'n bewaringsverskil gemaak).

Musiek van die Binnekelder

Musiek van die Binnekelder
 
Die klanke van Albinoni
Laat ons sweef in ’n wêreld wat niet bestaan
Verlang na oomblikke wat nooit sal wees
Dankbaar oor wat ons het
Klaag oor dit wat moes wees

Draai draai mitologie draai
Deur Orfeus en Euridees
Want liggies, liggies dans ons
Grasieus, grasieus soos die geseënde gees
Ons.

Ons kom
  ons gaan
    ons is
      ons was
        ons sal wees.

Ons.

Khachaturian bring skoonheid uit pyn
Phrige en Spartacus
Bloed, moord, tragedie, liefde ontbeen
Vryheid, onreg en onrus
Allemal verweef in een.

Beelde draai soos ’n ligte ballerina
Beelde draai, draai, draai
Draai reguit deur my
Liggaam, psige, emosies en gees verwaai
'n Biomatriks verweef, versprei.

Die mooi,
   die skoonheid,
     die romantiek,
        die bruis van weer verlief wees
           die nimmerewige zeitgeist.

Dit, net dit.

Ver onder
  wit wolkkombers
    sweef stadig verby
      sweiswit son op metaalvlerk
        blink verblind .

Note rol af by Einaudi se klavier
Draai, draai, rondomtalie draai
In intermezzos van introspeksie
Die gedagtes 'n swart kraai
In die son se laaste refleksie.

Canteloube; daardie ou lied uit die Auvergne
Los geliefdes, vriende agter
Reis alleen verder
In die hart se binnekelder
Spook die musiek nimmereinder.

2015/12/03

As die Perdeblom Verwelk

Die klap van die reën op die ruit
Waar vermeng met die trein se fluit,
Die ou staanhorlosie in die voorkamer
Die uur klokslag uithamer

Ingekruip is jy, in my hartkas
Jou eie poshok, met notas
Gebêre tot eendag se weersien
Laataandkuier in Koster, of ontbyt in Zlín

Dis toe die lewe hierdie Dinsdag kom staan
En oppie hartsnare ’n C-mineur-sewe slaan
Die akkoord vaspen, middelslag en somber.
Die maag laat saamtrek in kommer

Die boodskap was daar, grou en goor
Ons het jou amper verloor
En voor ek kon verstaan
Was my hart ys en tyd het stil gestaan

Die kil besef het met weerklank geslaan
Ek’s nie reg om jou te laat gaan
    te laat gaan
       te laat gaan

Want ingekruip is jy, in my hartkas
Jou poshok; met meer die notas
Ons herontmoeting so skaars
  so skaars
    so skaars

En nou druppel die reën haar trane
Teen die ruit in waternat bane
Vervuld in metafisiese empatie

Ag, mens

Wanneer die geel van die perdeblom verwelk
en haar silwer haardos in die wind verwaai
Wanneer gemoed in die najaar draai
Die boer die laaste vrugte maai

Kyk dan in die hemel na die windswael
Wat verhuis sonder kwaal
Van hier tot ver oor die ewenaar
Jou gedagtes na my dra op die wind se snaar

Ag, jy

Nostalgie het geen kuur
En kom daardie laaste tydglas uur
Waar ons sal beide moet reis in eie tyd,
Alleen van hier na daar

Mag ons net hoop dat in die poshok
Het die laaste brief tussen ons ook ontdok.

2015/08/05

Slotsom

Slotsom

Kom die dag, kom die uur
Kom die laaste maal
Die end van lewensduur
Daardie reis van hier na daar
Maak dié laaste taak vir my klaar

Lê my vleeslike stof neer daar
Waar die son oor Ifidi,
Die Mnweni-oggend in die vuurkleur baar
Die finaliteit met gras, grond
En uKahlamba se basalt af te rond

Wanneer die mis rotsteater omvou
Die winterwind verwoed waai
Die klein waterval verys wit en grou
En lammergeierskadu die rotsspiese bedek
Gevind my siel sy tydelike rusplek

En sou die Groot Meester
My gees nog laat dwaal,
Laat dit dan wees ter
Ontwrigting van die boosdoener;
'n Beskerming vir die bergklimmer