Showing posts with label liefde. Show all posts
Showing posts with label liefde. Show all posts

13 January 2014

Umzimkulu

Dit was die jaar 1976. Ons het by Bizweni Gevangenisplaas gewoon naby die dorpie Umzimkulu. Umzimkulu is agtien km. suid-wes van Ixopo en ongeveer 250 km. noord-oos van Umtata in KwaZulu Natal.

My eersteling was toe twee jaar oud. Laerskool Umzimkulu was 'n klein skooltjie met 'n leerlingtal van ongeveer veertig kinders. Die skoolhoof se naam was Mnr. A.J. van Rijn en wat ek van hom onthou, is dat hy baie lief vir sweiswerk was. Hy het ook graag met 'n lieflike, duur vulpen geskryf en het die mooiste handskrif denkbaar gehad.

Dit was 'n dubbelmedium-skool en daar was omtrent ewe veel Afrikaans- as Engelssprekende kinders. Mnr. van Rijn het elke tweede Maandag dus sy opening in Engels waargeneem. Was dit toe dat ek vir die eerste maal in my lewe gehoor het presies hoe mooi  Bybelwoorde in Engels klink?

Psalm 139
 O Lord, thou hast searched me, and known me.
 Thou knowest my downsitting and mine uprising, thou understandest my thought afar off.
 Thou compassest my path and my lying down, and art acquainted with all my ways.
 For there is not a word in my tongue, but, lo, O Lord, thou knowest it altogether.

Ek wou nie regtig op daardie stadium van my lewe skoolhou nie. Ek wou net Ma- en vrouwees, want alles was nog so nuut en opwindend. Toe een van die permanente onderwysers egter met kraamverlof moes gaan, was daar nood en het die hoof my gevra of ek nie kans sien om te kom "uithelp" nie. Dit was 'n klein dorpie en onderwysers so skaars soos hoendertande. Ek het ingewillig. My kleuterkind kon saamkom.
Op 'n stadium het die hoof bedank of afgetree en het baie kinders ook die skool verlaat. Ek en agt kleingoed het oorgebly. Hoe heerlik! Net agt leerlinge in my klas in verskillende Grade en tale en een kleinding van my eie. Ek was toe sommer die hoof, die Juffrou, die sekretaresse en die "tealady", alles in een.

Elke dag van half agt tot een uur sou ons klompie die lewe en sy uitdagings aanpak. En dit was wonderlik. Ons skoolgebou was onder groot bome en nooit het onsonveilig gevoel nie. Ek het soggens een vir een kind gevat en sy werkies met hom gedoen en gehelp, óf in Afrikaans, óf in Engels. Terwyl ek besig was met een of twee in Gr. Een, het dié wat in ander Grade was rustig gelees of geteken totdat dit hulle beurt was om uitsoek-aandag te kry. Intussen het my eie Rooikoppie sit en blokkies speel of krabbels met vetkryt geteken. Soms was die pouses sommer ook langer as gewoonlik en het die klok gelui net wanneer hy wil. Of wanneer ons wil.


Die seuntjie derde van links in die agterste ry se naam was John Havemann. Hy was baie intelligent. Suiwer Engels van bo tot onder. Op daardie stadium was my Engelse woordeskat maar beperk, komende van die goeie ou Transvaal. Ek het vinnig geleer as 'n mens nie Engels of Zulu in Natal praat nie, dan praat jy nie. Dit was John wat my ook geleer het dat 'n bourekenaar 'n "Quantity surveyor " in Engels is, want sien, sy Pa was een. Ek onthou dit tot vandag toe nog. 'n Onderwyser leer dikwels ook baie by kinders.


Die seuntjie heel regs agter se naam was Terry Hobson. Hy het pouses sy kosblik oopgemaak en gereeld vir my 'n stukkie van sy heerlike "Banana loaf" wat sy Ma gebak het, aangebied. Ek moet nog die resep iewers tussen my bêregoed hê.  Dit was watertand-lekker! 
Op 'n dag loop daar 'n kat by ons klaskamer verby. "Puuuusssss ! Puuuusssss!" roep Terry haar in Engels.

Dit was vreedsame dae propvol onskuld en eenvoud. Aan die einde van daardie jaar is die Gevangenisplaas aan die Transkei oorhandig en het die klein skooltjie ook toegemaak. Ons het na Ixopo verhuis en die kinders het elk 'n ander heenkome gevind. Ons almal was maar hartseer om te groet, want ons het geweet daar sou nooit weer presies sò 'n skool op aarde wees nie.

12 December 2013

Die wisseltand


Hy het dié oggend skool toe gekom met ‘n plastiek sakkie in sy hand. Daar was ‘n tand en ‘n 50c in. Toe hy my sien, het hy die 50c trots in die lug gehou en jubelend uitgeroep: “Kyk my geld, die muis het dit vir my gebring!”  Sy oë was blink en baie bruin.  Die taai mondjie het van vreugde gelag.
“Dis gaaf. Is daar dan muise in die koshuis?” het ek belangstellend gevra.

“Ja, ‘n muis het dit vir my gebring, ‘n regte, groot koshuismuis!”

“Is nie, dis Meneer wat dit gegee het, man!” het ‘n ander koshuisbrakkie uitgeroep.  Hy was duidelik lankal by die tandmuis-stadium verby.  “Hoekom het jy dan nog die tand?” het hy leedvermakerig gevra.

“Die muis het gesê hy sal weer kom, wêêêê tog!” Hy het sy tong so ver as hy kan vir sy slim maat uitgesteek. Toe het hy na my gekyk. Groot droefenis oor geheel sy gevreetjie. “Is mos ‘n muis né?” en na sy opponent se kant toe: “Jy is net simpel, hoor jy!”

Ek het besef ek moet ingryp. “Bêre die sakkie binne-in jou tas hoor.”  Hy het nie geluister nie. Ek het nie opgelet nie. Daar was twaalf ander Graad Eens wat ook elkeen sy stukkie aandag wou hê. Nà ‘n ruk merk ek op dat hy steeds die sakkie styf vasklem in sy een hand.

Wie luister nou ook na so ‘n opdrag as dit jou enigste aardse besitting is wat vreugde verskaf?  Wie luister as jy maar net sewe is en in die koshuis is. Wie luister as jou pa en ma ver is en boonop uitmekaar is. Wie luister dan?

Hy het die 50c voor hom op sy tafel neergesit. Hy het kort-kort daarna geloer terwyl hy sy somme met halwe aandag gedoen het.  Die tand het hy in sy broeksak vasgehou met die hand wat nie skryf nie.

Dit was toe ons op die mat sit en prentjies uitknip, dat hy ewe skielik vervaard opspring en na sy tafel toe storm. Die 50c was weg.

Luidkeels het hy losgebars: “My geld is weg, my geld is weg!” Die trane het oor sy wange gestroom.

‘n Hele kwartaal van maklik huil is agter die rug. ‘n Hele kwartaal waarin ek hom ge-mamma en geliefie het,  is reeds verby. ‘n Hele kwartaal waarin ek hom ‘n paar maal by my huis laat kom kuier het om die huil sodoende te laat opdroog. ‘n Kwartaal waarin ek soms hard gepraat het, getroos het, geduldig en ook ongeduldig was.  Dis verby.  Maar sy huil het bly vasklou.  My simpatie was dus maar yl toe ek gevoelloos sê: “Jy wou mos nie na my luister nie!”

As ek gedink het dìt gaan sy jeremiade stopsit, het ek ‘n fout gemaak. Hy het harder as ooit sy hartseer en weemoed oor die aarde uitgegil en net daar besluit om na sy geld te begin soek. “Ek gaan in al die stoelsakkies kyk!” het hy geskree. “Kyk dan!” het ek moedeloos teruggeskree. Totaal onprofessioneel en onopvoedkundig.

Terwyl hy die blou sakkies wat aan die stoeltjies hang, gefynkam het, het sy jammerklagte luidkeels opgeklink. “Boehoe, boehoeoeoe!” Toe hy niks kon kry nie, het hy uitdagend aangekondig: “Nou gaan ek in die tasse soek!” 

Hy het een vir een tas oopgepluk en verbete begin krap. Ek het hom laat begaan.  Die res van die klas het hom grootoog aangekyk. Nie seker wat hulle te doen staan nie.

Toe dit amper pouse was, het ons uitgegaan om derdemannetjie te speel. Sy droefheid was vir ‘n oomblik vergete. Net vir ‘n oomblik.

Skielik het hy op sy knieë neergesak en huilend, trooteloos uitgejammer: “Nou is alles weg. My tand is weg, my geld is weg!” Sy gesiggie was nat van die trane. Sy neus het getap. Sy mond was taai. Deur die trane heen, het hy stip na die gras voor hom gekyk. Iewers moes ‘n klein, wit melktandjie wees.

Ek het hom jammer gekry en een van die ander seuns gevra om hom te help soek. Toe het ek gaan tee drink.

Terug in die klas, stamp iemand (opsetlik?) ons huilbalie se potlode van die tafel af. Onnodig om te sê, bars hy weer uit in sy weemoedige huil-skree. Ek het voor hom gaan sit. “Sê vir my, gaan jy die hele jaar in die koshuis bly? Gaan jou ma jou nie uithaal en in ‘n ander skool sit nie?” het ek oënskynlik kalm en rustig gevra.

Sy trane het skielik opgedroog.  Met ‘n astrantheid wat gladnie by sy tranedal van vroeër pas nie, het hy vies vir my gesê: “Nou is Juffrou ook moeg vir my.”
“Nie vir jou nie. Ek is moeg vir jou gehuil.” Hy het stilgebly. Salig.

Toe ek die middag na my kar stap, leeggetap en bly dis naweek, lê die 50c blink voor my in die middagson op die gras. Sal ek dit hou of moet ek dit ver, ver weggooi?

Toe Maandag kom, bêre ek die geld in my laai met die woorde: “As jy vandag nie een keer huil nie, kan jy dit kry as dit huistoetyd is.” Hy was so soet soos ‘n droom.

Toe kry ek ‘n ietwat bose plan: “Kom ons bêre jou 50c tot Donderdag as dit koekverkoping is.”  Dit sou nog drie hele dae van vrede in my klas beteken. Sagte, wonderlike vrede. “Oukei,” het hy ewe inskiklik gesê. Die 50c was nie meer net ‘n gewone geldstuk nie, dit het ‘n baie doeltreffende afpersmiddel geword.

Toe Donderdag aanbreek het hy sy geld gekry. Sy oë het gestraal toe hy ‘n heerlike skyf  koek kon gaan koop. Syne alleen.

Teen dié tyd was hy al gewoond om nie meer so maklik te huil nie. Vrydag het gekom en gegaan sonder een enkele traan. Sy swart ogies het geblink toe hy saam met die ander vir my koorsing: “Totsieiens Juffrou, totsieieiens maatjies!”  En ek het 'n klein bietjie meer van liefde verstaan.

11 December 2013

My kosbaarste brief


 
Ek het ‘n paar woelige seuntjies in my klas gehad. Eendag is drie van die bedrywigstes besig om mekaar te stoot en te stamp. Ek roep hulle toe nader en een van hulle begin droewig huil. “Askies juffrou, askies!” Die ander een begin verduidelik: "Juffrou, ons sal weer vriende word." Die derde outjie staar mistroostig voor hom uit.

My sagte moederhart kon dìt nie hanteer nie en ek kry toe ‘n plan. “As julle elkeen vir my ‘n baie mooi sin op die kaartjie skryf, sal ek julle nie kantoor toe vat nie. Maar dit moet ‘n mooi sin wees!” Hulle het toe so pas die stadium van ek-kan-‘n-sin-skryf bereik.

Ewe bly gryp drie seunshandjies elk ‘n kaartjie en begin ywerig skryf. Nà ‘n paar minute gee die stoutste van die drie sy kaartjie aan my met ‘n selftevrede glimlag. In kinderletters staan daar, duidelik, swart op wit: Vir geewi my sondi asiblief Jfou

***

Nog ‘n briefie wat my ook vas teen die hart lê en wat ek nie kan weggooi nie, was van ‘n mooie, klein witkopdogtertjie wat net begin skryf het, natuurlik presies net soos wat sy gepraat het:
Liewijvrik is soo liev vir jifrou. Ek wil nie hedat jifrou mt wegaan nie. Levti Tonya.
Oral op die papier was uitgeknipte blommetjies met die grootste sorg vasgeplak deur klein handjies.

***

Dit was winterkoud en my hande wou dié oggend nie warm word nie. “Voel hoe koud is Juffrou se hande, “ het ek gesê en met altwee my hande om hul dierbare ou Graad Een-gevreetjies gevat.
“Sjoe, Juffrou!” sê André.
“Ek wil ook voel,” sê Louis, “en ek....en ek!” koor almal agterna.

Skielik spring Herman op en druk ‘n briefie in my hand.
“Ek is lief vir Juffrou.”
“Oe, lekker, iemand is lief vir my,” sê ek en druk die briefie hier voor by my bors in, min of meer daar waar ander mense hul geld bêre.

“Ek gaan hierdie briefie heeldag hier teen my hart hou hoor Herman,” sê ek. Sy oë straal. Hy blom behoorlik.
“Ja en dan kan dit Juffrou sommer lekker warm maak,” sê Liana ewe slim. Sy het op hierdie vroeë ouderdom alreeds goed geweet hoe die liefde werk.

10 December 2013

Om Juffrou te wees.




Dit moet in 'n mens se bloed wees: die vreugde van onderrig gee. Die bevrediging en algehele lekkerte van te weet hoe om iemand anders te kan leer, te kan help, aan te hou probeer tot hy verstaan.

Soms is dié verstaanproses blitsvinnig en natuurlik gee dit vir enige onderwyser die grootste lekkerkry. Soms is dit stadig, maar op ‘n dag blom die droë woestynplantjie wel en dan is die blydskap soveel groter.

Saam met die leerproses loop die leer-mekaar-ken. Kind en onderwyser, onderwyser en kind. Leer mekaar se maniere, mekaar se streke, mekaar se lief en leed, groot stukke van mekaar se lewe. Soms groei mens só vas aan die kinders in jou klas en onthou jy hulle vir jare en jare daarna.

Vir hulle sal jy altyd maar “Juffrou” bly. Êrens op ‘n dag kom staan ‘n volwasse, mooie man met lagplooitjies langs sy oë en om sy mondhoeke voor jou en vra met ‘n diep stem: “Onthou Juffrou my nog?” Natuurlik sal jy hom onthou. Hy was dan die punt van jou hart in die beginjare van skoolgee.

Sou jy tussen ander nasies en tale beland, is die aanpassing groter, die leer-mekaar-ken baie tydsamer, wyer. L a n g s a m e r h a n d . Tòg is en bly kinders maar kinders. Of jy nou hul “Juffrou” of hul “Mêm” is. Die oordra van kennis bly ‘n onuitputlike bron van vreugde, want daar is sò baie om te leer. Die wêreld is nuut, oop en so vreeslik lekker.

Elke dag verander in ’n begeleide toer aan die hand van die onderwyser wat voor so ‘n klas kom staan. Elke dag word ‘n splinternuwe reis na nuwe ontdekkings.

Dis nie net leer hoe om ‘n ordentlike nege of agt of sewe te maak nie. Dis leer van omgee, van respek, van maniere. Dis leer om mens te wees. Dis ook nie net die onderwyser wat die kind leer nie. Dit is baie dikwels ook andersom.

Die dae is te kort en die ure vlieg vinnig verby, want alles, ja alles wat ons doen is splinternuut en wonderlik-lekker veral as ons eers besef waaroor dit werklik gaan.

Mag almal wat onderrig gee steeds vreugde put uit dié dinge waaroor mens nie vergaderings hoef by te woon of notules en verslae hoef te skryf of boek oor te hou nie. Dié ding wat ons doodgewoon maar net liefde noem.

8 December 2013

Baie spesiaal

 

Iewers tussen al die jare van skoolhou deur, moes ek op 'n keer of meer vir die Spesiale Klas skoolhou. Eindelose geduld en emmers vol liefde was daagliks nodig om dié kinders te help, te leer en te lei. Tóg het die Juffrou ook baie by hulle geleer. Aanvaarding was verseker bo-aan die lys.

"Juffrou, k…k…kan juffrou, Juffrou se ore beweeg?" vra 'n elfjarige blou-oogseunskind my op 'n dag en hy demonstreer dié ongewone vaardigheid met groot selfvertroue. Sy mond is vuil en skurf van die koue winterlug en van verwaarlosing.

Nà 'n pouse en 'n draai by die Snoepie steek hy sy tong ver uit, potblou van 'n suiglekker wat hy gekoop het: "Juffrou, k…k… kan ek my mond gaan was?" Toe hy terugkom, kom staan hy voor my, steek sy tong weer so ver as moontlik uit: "Juffrou, k..k…kyk nou, dis nou skoon!"

"Juffrou, wat is die vinnigste ding in die wêreld?"
"Weet nie?"
"'n Poep, Juffrou, want hy gaan dwarsdeur jou broek sonder om 'n gaatjie te maak!"


Hulle was sonder enige pretensie, sonder skroom en inhibisies. Hulle was ook baie ontvanklik vir allerlei invloede. As 'n Juffrou haastig is in so 'n klas, soek sy groot moeilikheid.

Soggens het ons saam gebid dat ons geduld moes hê vir elke dag. Aan die einde van 'n skooldag (wat soms eindeloos gevoel het), het ons dankbaar gebid vir die vreugde van huistoegaan. Hulle was bly dat hulle uit die benoudheid van vier mure kon ontsnap en ek was heeltemal leeggetap.

Met vuil hande en skoene wat bo in bome vassit en taai monde het hulle my nà 'n pouse ingewag. As die hande gewas is en die mondjies weer skoon was en ek na 'n redelike tyd dit kon regkry om hulle tot bedaring te bring, het ek uiters suksesvol gevoel. Net om weer amper moedeloos te raak as een van hulle sy werk so vinnig aframmel as wat hy kan, slordig en sonder sorg, traak-my-nie-agtig sy boek voor my swaai en jubelend aankondig: "Ek is tog eerste klaa-aar!"

Aan die einde van die jaar was ander Juffrouens se tafels oorlaai met geskenke. Die Juffrou van die Spesiale Klas het ander soort geskenke gekry. Toegedraai in bruin papier, 'n horlosie wat nie meer werk nie, 'n blink borsspeld wat duidelik uit hul ma se laai gegaps is of 'n toebroodjie met "sênwichs-sprêd" op. As jy baie gelukkig is, 'n pen wat by die "faaiv-rênd-sjop" gekoop is. Alles moes Juffrou ewe bly maak en sy het baie mooi dankie gesê. Haar ware geskenke was die blink oë en afwagting op die gesiggies voor haar terwyl sy die pakkies oopgemaak het.

Die weerloosheid van hierdie kinders het my elke dag klein laat voel. Hulle was afhanklik van elke bietjie liefde en aandag. Vir my was hulle opregtheid genoeg. Deur die genade het ek elke dag êrens vandaan krag en entoesiasme gekry om ook hulle wêreld 'n beter plek te probeer maak.

"Kom ons maak ons klas mooi en verf bietjie vandag," het ek op 'n windvaal oggend aangekondig toe alles net weer wil-wil lyk na doodgaan-tussen-die-distels.
"Jippppieieie! Juffrou is lekker! Juffrou is die lekkerste Juffrou!" gil hulle dit uit, lewensbly.

En as ons aan die einde van die dag blougestreep en rooigekol huis toe gaan en die volgende dag wéér worstel met ag-ek-kan-nie-verstaan-deelsomme en hoofletters en spelfoute, dan loer ons maar kort-kort na ons kleurvolle skeppings wat ons self geverf het teen die klaskamermuur.

Die wete dat daar êrens 'n plekkie in die son vir elkeen van hulle vorentoe wag, want Juffrou sê mos so, was hul grootste troos op aarde.

5 December 2013

Sy naam is Peet


Om van Peet te vertel, kan lank vertel word. Hy was uniek, 'n kind wat op sy eie ongekunstelde manier diep in my hart gekruip het om daar te bly vir altyd. Saam met my liefde vir hom, het ek ook 'n eindelose gevoel van beskerming en betrokkenheid by sy doen en late ontwikkel. Peet is al nou al uit die skool en ek lankal nie meer 'n jong Juffrou nie, maar sou ek hom van tyd tot tyd iewers in die dorp raakloop, sal ek steeds die deernis en toegeneentheid van destyds vir hom voel. Hy was nou maar eenmaal een van daardie kinders.

Peet se ouderdom vir Graad Een was reg, maar sy verstand het iewers vasgeskop. Iewers waar 'n kind nog baie sukkel om te praat, tussen begin-praat en kleuterpraat. Hy kon nie al die klanke suksesvol sê nie en volsinne was ver bo sy vuurmaakplek. Klanke wat hy wel geken het, het hy op verkeerde plekke ingespan. Vir hom was dit moeilik om te kommunikeer. Hy het hom egter nie veel daaraan gesteur nie en as hy iets wou sê, het hy met sy krummeltjie-woordeskat homself sonder skroom probeer verstaanbaar maak vir almal wat wou luister.

Sou hy bv. wou sê: "Juffrou, ek het my geld vergeet," het dit só geklink: "Jfoe, ek my selt seet!" Ek het later 'n oor vir Peet se spraak ontwikkel en deur die genade verstaan wat hy probeer sê as hy so sukkel-sukkel praat:
"Jfoe, kwil tolet toe han…"
"Haak wil my sat!' (Jacques wil my slaan)
"Jfoe, 'n kêppiejoen het my ma heteek!"
"Sit oppe kebas!"
"Jfoe, wane kan ek my tek vi Jfoe see?' (tjek gee)
"Ek het om lyne han!" (om die lyne gegaan)
"Ek it nie my potskele nie!" (ek het nie my sportklere nie)
"Moet ek die atte-ond ok inkeu?" (agtergrond ook inkleur)
"Fyt, fyt, my tolie is kaa!"
"Sy't my 'n tempel en 'n tel hegee!" ('n stempel en 'n ster)
"Ons hette tofeier!" (stofsuier)
"Hy't hips aan sy amme" (gips aan sy arms)
Een pouse raas die prefekte met Jacques. "En met ek!" vertel Peet met 'n glimlag, nie doodseker of mens trots of skaam daaroor moet voel nie.

Daar was egter één woord wat Peet perfek kon uitspreek. Ja, dit was die ou bekende wegjaagwoord in krasse taal: “F….!” In sy voorskooljare het hy dit daagliks gehoor en dit het so diep ingesink en deel van sy karige woordeskat geword dat hy nie eers besef het dis heel rof om so te praat nie, veral nie in 'n klaskamer en veral nie voor 'n Juffrou nie.

Hy het dié woord tydig en ontydig ingespan. Wanneer die kinders hom terg of treiter, het hy hulle daarmee gepeper. Male sonder tal. Klein soos hulle is, het die ander kinders natuurlik dié situasie begin uitbuit en hom met opset getart sodat hy sy vreeslike vloekwoord kon sê.

Dit was tog vir die terggeeste te lekker as Juffrou so kwaad raak omdat Peet so lelik praat. Hy het gladnie die vermoë gehad om 'n "wag voor sy mond te sit nie" en die vreeslike ou f-woord het sommer vanself sy pad gevind. Sonder sukkel. Onnadenkend, duidelik en hard, sodat almal in die onmiddellike omgewing en selfs verder dit goed kon hoor. Ek het duisende planne uitgedink om hom van dié gewoonte te laat genees, maar alles tevergeefs. As ons maar weer hoor, het Peet weer ge-f….!

Op 'n dag sê ek uit pure radeloosheid: "Ek klim sommer een middag in my kar en kom kyk wie vloek so daar by julle huis!" Hy het dié woorde onthou. Ek het dit onmiddellik vergeet, want wààr gaan 'n besige Graad Een Juffrou met vier kinders van haar eie tog nou tyd kry om te gaan luistervink speel.

Op 'n dag so 'n week of drie na my ondeurdagte dreigement, ry ek na my kleremaakster se huis. Ter insae: die naaste wat ek aan naaldwerk kom, is om onder groot druk miskien 'n kopseer-knoop aan te werk of 'n sukkel-soom in te sit. Op pad daarheen, vang my oog 'n paar kinders wat buite in hul erf balgooi en speel. Een van hulle was Peet.

Dìs dan waar hy woon, het ek gedink en besluit sommer net daar om met die terugkomslag te gaan kennis maak. Ek het gladnie gedink aan wat ek weke gelede vir hom gesê het nie. Ek was net nuuskierig om meer van sy huis en sy mense te wete te kom, want sien, ek was mos maar erg oor die ou seuntjie met die dik, bruin hare en beperkte begrip.

Die ontvangs was hartlik en baie opreg. Peet se Ouma was die hart van die huis, sy het my voorgestel aan Peet se ma wat skamerig geglimlag het en my aangekyk het met iets soos die allerheiligste respek. Hier was nou 'n regte Skooljuffrou voor haar oë. Ek het meteens só klein gevoel.

Peet se Mamma het toe nou ook nie veel gepraat nie; net alles met 'n inkennige glimlag beaam, haar oë dàn op die Ouma, dàn op my, dàn op Peet wat stom langs sy Ma se stoel geparkeer gestaan het sonder om te roer.

Ouma het die geselskap aan die gang gehou, tee gemaak, koppies uitgepak op 'n netjiese, gestyfde en uitgeborduurde skinkbordlappie. Sy het my uitgevra oor Peet se gedrag in die skool. Dit was opvallend hoe netjies alles in die huis was ten spyte van finansies wat seker ook maar karig was.

Die pa was 'n motorwerktuigkundige en nog by die werk tydens my kuier. Ons het nog so 'n bietjie ge-oe en ge-aa, Peet steeds tjoepstil langs Moeder se stoel en sy steeds sprakeloos. Ek besluit toe om maar te vertrek. Ek het hulle hartlik bedank vir die tee en belowe om weer te kom.

Toe ek wegry, sien ek in die truspieëltjie hoe Peet sy arms swaai asof hy vir ewig van my wou afskeid neem. Ek het nog kleiner gevoel en daaraan gedink hoe min tyd het dit nou van my gevra om net bietjie belangstelling te toon. Waarom kan ons dit nie meer doen nie? Ons sou die kinders wat voor ons in die skoolbanke sit tog soveel beter verstaan.

Die volgende oggend veilig terug in die skool en sommer nog aan die begin van die dag, vertel ek aan al die ander kleingoed hoe lekker ek gister by Peet gekuier en tee gedrink het. Ek wou nog asemskep om verder te borduur, toe hy skielik opspring en baie ingenome met homself uitroep:
" Ja! En ons VOEK nie mee' nie!"

Skielik het daar vir my 'n helder lig opgegaan en het ek gewéét hoekom hy heeltyd so vasgenael en doodstil langs sy ma se stoel gestaan het tydens my kuiertjie, sekerlik wagtende op die gevreesde oomblik wanneer Juffrou in haar kwaai stem sou sê:
"WIE VLOEK SO IN HIERDIE HUIS?!"

Onnodig om te sê, Peet se geliefde f-woord het 'n stille dood gesterf.

Janneman se verjaarsdag




Te midde van vele gebeurtenisse en woelinge, moontlike pakkette, opvoed en grootkry van eie vier uiteenlopende kinders, kopkrap oor finansies, Graad Eens wat leer lees en vele ander baie belangrike bedrywighede, het 'n groen ge"aaisiengde" trein op 'n dag my lewe binnegestoom en my tot stilstand geruk.

Die trein se vensters was van toffies, wit wattarook het by sy skoorsteen uitgejubel, sy wiele was ronde koekies. Daar was drie trokke en 'n enjin. Die wiele is met silwerblink foeliestawe aanmekaar gehou. Helderkleurige "smarties" en "hundreds-and- thousands" was oral op die groen versiersuiker vasgedruk.

Op sy foeliebord-platform by 'n vrolike stasie met die naam van "Geluk" het die trein 'n rukkie in Graad Een B se midde kom staan en elke Graad Eentjie se bewondering afgedwing:
"Juffrou, kyk sy wiele!"
"Kyk die kole! Rooi kole! Brand dit?"
"Oe, dis baie, baie moooooooi!" het hulle mondwaterend, lipaflekkend, bewonderend uitgeroep en om die verjaarsdagtrein op die stoep saamgebondel, waar ek dit op 'n lae tafeltjie staangemaak het.

En onse witkop Janneman het gestraal want dit was SY trein wat SY ma gebring het vir SY verjaarsdag.

Hy het die sewe kersies met één blaas doodgeblaas terwyl "Veels geluk liewe maatjie" vol ingehoue, wriemelende afwagting en elkeen-op-sy-eie-noot gesing is.

Toe het hulle 'n ry gemaak en ek het 'n dik skyf koek in elke handjie gesit. Daar was immers drie trokke EN 'n enjin. Lekkerrr taai, lekkerrr soet en groengekrummel het hulle stroopsoet anderkant uitgekom. As hulle die rook óók kon opeet, sou hulle seker.

Jacques, wat in die koshuis was, het baljaar tussen die groen krummels en die versiersuiker wat op die hardbordstasie agtergebly het. Hoekom klink "aaisieng" dan tog 'n lekseltjie lekkerder?

Behalwe vir dié heerlike Groen Trein, was daar vir elke kind ook nog 'n vierkantige kartondosie met 'n potlood-vol-prentjies bo-op en binne-in: springmielies, koekies en lekkers. Stroopsoet het ons op dié dag geword en stroopsoet het ons huis toe gegaan.

Die opregtheid en moeite van sy mamma het my by die Groen Trein laat halt roep.
 'n Blinkoog, witkop Graad Een seuntjie, goue oomblikke van borrelende blydskap, opgewonde maatjies om dié vreugde mee te deel. Dankie vir dìt wat jy in ons klas ingebring het, Groen Aaisieng Trein, dit wat mens nie regtig in woorde kan sê nie, dit wat iets beteken het te midde van duisende worstelinge en woelinge, inkomstebelastingvorms en bankstate en 'n klas vol Graad Eens wat singstem leer lees: “Dit is Pofmuis. Pofmuis soek 'n huis."

3 December 2013

Die Groot Skrik


 
Hy was 'n stewige knapie met fris kuite en ronde boudjies. Sy hande en voete was ook groter as die ander seuntjies s'n wat saam met hom in die klas was. Die respek wat hy van die ander as gevolg hiervan afgedwing het, was duidelik merkbaar in hul optrede teenoor hom. Hulle het dit nooit gewaag om sy goed te vat of hom teë te gaan nie. Altyd maar ewe inskiklik en gedwee. 'n Mens sou hom dus seker maar 'n "boelie" kon noem, 'n baie eensame boelie.

Hy was in die koshuis en het maar min geleenthede gehad om huis toe te gaan. Sy pad moes hy vir homself oopveg, altyd maar op die verdedig, altyd maar baie braaf op die uiterlike getakseer, maar diep binne vreeslik, vreeslik onseker. Net maar 'n ou seuntjie wat liefde en aandag broodnodig gehad het, soos ons almal.

In die klas was hy ook maar partydae moeiliker as ander en het dikwels slordig gewerk en nie geluister nie. Een oggend was hy in 'n kwaai bui en wou almal om hom net hiet en gebied en sy wil laat geld. Kort-kort was daar 'n opstandigheid en 'n onrustigheid wat deur hom veroorsaak is. Elke keer het ek maar geduldig probeer vure doodslaan.

 Skielik gil die fyn, blonde, brose dogtertjiekind langs hom dit uit!
"Wat nou?"
"Hy het my met die potlood se punt gesteek en dit bloeoeoeoeoeii!" teem sy met 'n kry-my-jammer-voor-ek-doodbloeistemmetjie en die trane biggel uit haar popblou ogies.

My geduld was op. Nou vat ek hom "kleinkamertjie" toe. In al die gradeklasse was daar 'n stoorkamertjie waar mens jou boeke en apparaat en dinge wat van jou 'n beter juffrou kon maak, kon bêre en hier het ek menige kind gratis sielkundige behandeling gegee en soms ook 'n strenge wiks op die boud. Soos brood en konfyt, gesond op sy tyd. Die kleinkamertjie, soos hule dit genoem het, was dus 'n plek wat met groot eerbied en ontsag benader was deur alle Graad Eens.

Ek het agter sy stoel gaan staan en hom driftig aangesê om op te staan. Hy het geweier en terselfdertyd versteen: stokstywe, fris bene reguit voor hom uit, arms vasberade op die tafel voor hom vasgepleister. "Hier gaan ek nie beweeg nie!" het sy hele houding gesê. Sy mond was 'n dun lyn en sy groen oë groot en kwaai starend voor hom uit. 'n Soliede stuk seun van sewe.

"Staan op!" het ek weer probeer. Hy het net meer gedetermineerd op sy stoel vasgemessel bly sit, roerloos. Ek het met my regterbeen en voet die stoeltjie vorentoe gedruk om hom te probeer uitkry, maar verniet. Ek het  kwaad geword en hy al harder en stywer en meer moeilik. Met mening probeer ek hom van sy stoel loskry, maar hy SIT. Toe stoot ek hom met stoel en al in die rigting van die gevreesde kleinkamertjie.

Ten einde laaste het hy opgestaan, die stoel eenkant toe gestamp en manmoedig STYF gebly. Toe druk-druk ek hom met my been en voet, my hande op sy skouers om 'n beter greep te kry.

"Jou boude gaan ek looi hoor! Jy maak almal seer!" het ek moedeloos-verby gesê.

Stadig het dié ongewone stoet in die rigting van die kamertjie beweeg, steeds met groot teenstand van sy kant af. Ek het gestoot en hy het gerem. Skielik het sy stywe bene onder hom ingevou en het hy reg agteroor neergeslaan op die harde vloer. Dadelik het daar bloed uit sy agterkop gestroom. Ek het myself vanselfsprekend simpel geskrik en die bloed met die naaste handdoek probeer keer. Dit het net aanhou bloei.

 Die ander kleingoed het begin huil, paniekbevange aan mekaar se handjies vasgehou en met groot, bang ogies na mekaar en na my gekyk wat op daardie donker oomblik aan niks betekenisvol kon dink om te sê nie. Dit was die begin van massahisterie.

Ek het sy hand gegryp en hom, al bloeiende, by die klaskamerdeur uitgetrek met 'n vinnige: "Juffrou is nou-nou terug!" Langs ons klas was 'n badkamer. Met toiletpapier en koue water het ek die bloedstroom probeer keer, maar tevergeefs. My groot seun het teen dié tyd ook begin huil.

 In my angstigheid het ek al klaar gesien hoe staan daar in groot, swart letters op die voorblad van die koerant:
"Onderwyseres in hegtenis geneem weens moord op weerlose Graad Eentjie."

Ons twee het in 'n rekordtyd die stoep afgehardloop tot by die kantoor. Baie benoud het ek vir die sekretaresse gevra: "Kan jy help met hierdie kind? Hy't op sy kop geval en dit wil gladnie ophou bloei nie!" Sy het my bekommerd aangekyk en teruggevra: "Dink jy nie ons moet jou eers help nie, jy's so wit soos 'n lap!"

Ons het hom siekekamer toe gevat en watte op die bloeiplek gesit, sy hare daar weggeskeer en weer probeer, hom op sy maag laat lê en hom getroos en gepaai. Ek het hom al sy gruwelikhede vergewe en sy hand styf, styf vasgehou. Ek en hy ewe doodgeskrik. Ek het suikerwater gedrink en stadig maar seker opgehou met bew. Hy het opgehou bloei en soos 'n lam ter slagting stroopsoet op die bed bly lê... willoos en slap.

Skielik het ek my seëninge een vir een getel. Ek het besef hoe gou 'n ongeluk kan gebeur, hoe groot 'n Graad Een-Juffrou se verantwoordelikhede regtig is en hoe
e i n d e l o o s       g e d u l d i g
'n mens daagliks moet wees.

Onnodig om te sê, saam met die bloedverlies, het driekwart van sy stoutigheid deur die genade ook weggevloei en was die res van die jaar baie meer vredevol en kalm as die dag voor die Groot Skrik. Miskien het my "macho man" ook besef 'n kind wat inskiklik en gehoorsaam is, se lewe is baie meer rooskleurig as dié van 'n opstandige klein wandelende oorlog.
Of dalk, net dalk, het hy besluit: "Met hierdie Juffrou gaan ek nie weer sukkel nie, sy laat mens bloei."
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...