Die muishond
Seamus Heaney
Orent, gestreep en gedamasseer soos die altaargewaad
by 'n dodemis, paradeer die muishond se stert
die muishond. Nag na nag
het ek haar verwag soos 'n besoeker.
Die yskas het runnikend stil geraak.
My lessenaarlamp se lig was sagter anderkant die veranda.
Klein lemoene het gegloei aan die lemoenboom.
Ek het gespanne begin raak soos 'n voyeur.
Na elf jaar het ek weer liefdesbriewe
begin skryf, die woord ‘gade’ geopper
soos 'n bewaarde kuip, asof die slank vokaal
muteer het in die nag-aarde en lug
van Kalifornië. Die lieflike, nuttelose
geur van bloekoms het jou afwesigheid uitgespel.
Die nasmaak van 'n mondvol wyn
was soos om jou in te adem van 'n koue kussing.
En daar was sy, die aandagtige en verleidelike,
ordinêre, misterieuse muishond,
gemitologiseer, gedemitologiseer,
snuiwend aan die planke vyf voet van my af.
Ek het dit alles weer onthou laasnag, geroer
deur die roetstuiwing van jou naggoedjies teen slapenstyd,
jou kop-onderstebo, agterstewe na bo soektog in die onderste
laai
na die swart nagrok met die diep halslyn.
[Vertaal deur
Johann de Lange]